BERNARDUS VAN BILJON
Stamvader van die Van Biljon Familie
in Suidelike Afrika
Die oorsprong van die naam Van
Biljon is waarskynlik ‘n verwysing na die dorpie Bouillon[i]
in die Belgiese provinsie Luxemburg. Onder die Nederlandse bewind is dit
moontlik Billion gespel.
Die bekendste inwoner van Bouillon
is ongetwyfeld Hertog Godfried van Bouillon[ii] ( c 1058-
1100). Hy het na ‘n oproep van die Pous in 1097 die eerste kruistog na
Jerusalem gelei. Die kruistog was ‘n baie duur uitstappie en om dit te
finansier het Godfried die kasteel van Bouillon verpand aan die Biskopdom van
Liege. Jerusalem is op 15 Julie 1099
ingeneem en Godfried van Bouillon is as ‘koning’ ingehuldig. Hy was ‘n baie nederige en godvresende man
wat nooit die titel van koning wou dra nie. Hy het tot sy dood in 1100 geheers
en is deur sy broer Boudewyn opgevolg. Die kasteel is tans die vernaamste
toeriste aantreklikheid in Bouillon en word jaarliks deur duisende toeriste besoek.
Dit is ‘n romantiese gedagte om te
dink dat die Van Biljons in Suid Afrika verwant is aan Godfried, maar
daar is geen werklike bewyse daarvoor nie. Dit is egter interessant dat die
familiewapen wat in die Groot Afrikaanse Familienaamboek deur C Pama as
‘n van Biljon wapen gelys word, ‘n kruis as een van die sentrale kenmerke het.
Dit kan moontlik ‘n verwysing na die eerste kruistog wees. Die oorsprong van
die wapen is onduidelik en dit is onbekend wie dit gevoer het. Dit sou ‘n baie
interessante oefening wees om ‘n verbintenis te probeer bewys aangesien
Godfried se stamlyn tot by Karel die Grote en Josef van Arimathea[iii]
teruggevoer kan word.
Die militêre invloed speel op 8
Januarie 1707[iv]
steeds ‘n rol in die Van Biljon familie want op daardie dag vertrek die
kersvloot van die VOC uit die hawe van Texel in Nederland, na Batavië. Aan
boord van een van die skepe in die vloot, die Hoedekenzkerke, is
Bernaerdus van Billioun, ‘n soldaat afkomstig
van Overis in die Brabant provinsie van België.
Bernardus sluit waarskynlik vroeg in
Januarie 1707 by die VOC aan en ontvang volgens die Soldijboek[v]
van die Hoedekenzkerke die gebruiklike f18 (f = gulde) of twee maande se soldy as handgeld. Hy kry ook
die gebruiklike voorskot van f150 om homself toe te rus met kos, klere en ‘n skeepskis om sy persoonlike goedere in te pak.
Behalwe die Hoedekenzkerke
bestaan die vloot ook uit die skepe Gamron[vi], ‘t
Ghijn, Huis te Hemert en Huis te Loo. Die Hoedekenzkerke,
‘n retoerskip van 830 ton, staan onder
leiding van Kaptein Jakob Willemsz. Daardie tyd van die jaar is die weer in die
Engelse Kanaal baie swak en onvoorspelbaar en dit is waarskynlik die rede
waarom die vloot, Duins (‘The Downs’ in die suidooste van Engeland) op 7
Februarie en Portsmouth (in die suide van Engeland) op 27 Februarie 1707
aandoen. Die Hoedekenzkerke het 124 matrose, 88 soldate en 9 passasiers
aan boord en onder die passasiers is vyf verstekelinge[vii].
Die passasiers op die Hoedekenzkerke
spring nie die invloed van die lang seereis, die moeilike omstandighede aan
boord en die swak kos vry nie en 4 persone sterf voordat die skip die Kaap
bereik. Heelwaarskynlik is ‘n hele aantal passasiers siek by die aankoms in die
Kaap, want Bernardus word volgens die Soldijboek van die Hoedekenzkerke
‘impotent in’t hospitaal’ opgeneem.
Die vloot kom op 11 Junie 1707 in Tafelbaai aan. Bernardus
is een van die 11 soldate en 11 matrose wat die skip verlaat en aan die Kaap
agterbly. Dis onbekend of sy reis net tot aan die Kaap was en of Batavië sy
eintlike bestemming was. Die vloot verlaat die Kaap weer op 3 Julie 1707 en
arriveer uiteindelik op 8 September 1707 in Batavië.
Bernardus se naam verskyn nie in die
Monsterrol[viii]
van Junie 1707, ook nie as ‘n pasiënt in die hospitaal nie, waarskynlik omdat die monstering reeds
voor sy aankoms afgehandel was.
Dit is nie bekend hoe oud Bernardus
was nie en daar is min oor sy oorsprong bekend. ‘n Moontlike leidraad na sy
oorsprong word in die Soldijboek van die Hoedekenzkerke gevind
aangesien daar ingevolge die gebruiklike ‘maandcedel’[ix] vir ‘n
aantal jare van sy loon of gasie aan ene Anna van der Waater oorbetaal is. In
Januarie 1709 ontvang sy f32 , in Desember 1709 f97, in September 1710, f95 en ‘n laaste betaling van f26 in Desember 1711. Wie sy is, weet
ons nie, maar gewoonlik is gelde volgens die ‘maandcedel’ aan ‘n eggenote,
moeder of ander naasbestaande oorbetaal. Die feit dat Bernardus se oudste
dogter Anna genoem is, is moontlik ‘n aanduiding dat dit sy moeder kon wees.
Indien inaggeneem word dat die
maandelikse loon vir ‘n soldaat f9 was, is in twee van die vier jaar meer as 9 maande se loon
aan Anna van der Waater oorbetaal en moes Bernardus waarskynlik in hierdie tyd
raap en skraap om liggaam en siel bymekaar te hou. Die maandelikse rantsoen van
ses pond soutvleis en 40 pond rys[x]
per week aan soldate op die Buiteposte het sekerlik goed te pas gekom.
Die eerste rekord van Bernardus aan
die Kaap is in die Generale Monsterrol van Junie 1708, waarin aangeteken is dat
hy ‘n soldaat verbonde aan die Kaapse garnisoen is. Hy dien in die Milisie[xi]
onder Kaptein Olof Bergh.
Vanaf 1709 tot 1712 dien hy en twee
ander soldate onder Korporaal Frans Lever[xii] by De
Groene Cloof. Hierdie buitepos was omtrent 50 km vanaf Kaapstad en 80 km
van die buitepos Saldanhabaaij, in die omgewing van die hedendaagse Darling,
geleë. Volgens die reisiger, Francois Valentijn, is die pos gestig om vleis vir
die skepe wat die Kaap aandoen, te voorsien. Dit het ook as wagpos gedien om
die veestapels van die Kompanjie sowel as dié van die vryburger slagters teen
aanvalle van die Koina te beskerm. Die pos moes ook ruilhandel tussen die
burgers en die Koina voorkom.’Ook legt hier een wagt van de E. Maatschappy,
zoo om daar op te passen, als om den handel der Vrylieden met die Hottentots te
weeren, alzoo dit niemandt, dan E. Maatschappy, of die zy dat toelaat, doen mag[xiii]‘.
Die pos was verder ook die ontvangpunt
vir geruilde vee en die vertrekpunt van ruilekspedisies na die noordweste.
Bernardus se vyf jaar kontrak met
die VOC het aan die einde van 1711 verstryk, maar hy sluit vir ‘n verdere
termyn van vyf jaar aan. Gedurende 1713 word hy weer na De Militie oorgeplaas, weereens onder Olof
Bergh. Bernardus was gedurende1714 een van die 24 wadrywers verbonde aan die
buitepos De Schuer[xiv]
onder Poshouer W Swartzenberg[xv].
Hierdie buitepos, geleë in die omgewing van die Groote Schuur landgoed in
Kaapstad, is aanvanklik gestig omdat daar koring teen die Liesbeekrivier
geplant is wat beskerm moes word. Mettertyd is ‘n groot graanskuur hier gebou
en is ‘n veepos ontwikkel. Die belangrikste funksie van die pos was egter dat
die kompanjie se transportwaens en trekvee daar gehou is. Elke transportwa het
drie spanne osse, bestaande uit agt osse elk, benodig. Hulle is daarom goed
opgepas en elke somer is selfs hooi gesny en aangery vir die trekvee. Die groot aantal soldate wat by De Schuer
gedien het, het die veeleisende taak gehad om die waens in- en uit te span, op- en af te laai en om
lang togte as touleier of drywer mee te maak. Enige van die betrokke take by De
Schuer kon dié van Bernardus gewees het.
Vanaf 1715 tot 1717 dien Bernardus
onder Korporaal A Verreijn[xvi]
as soldaat by die buitepos 't Land van Waveren, die latere distrik
Tulbagh. Soos meeste van die
buiteposte, is die pos gestig om die Vryburgerboere en die Kompanjie se veestapel te beskerm en te versorg, asook om
ruilhandel in vee te beheer. Oorspronklik is die gebied deur die inheemse Koina
bewoon en die uitbreiding van die kompanjie in dìe gebied het oor die jare
heelwat skermutselings en voorvalle van veediefstal veroorsaak.
Bernardus se tweede termyn by die
VOC verstryk in 1717 waarna hy as ‘bouwkneg’[xvii] in diens
tree van Pieter Jansz Swanepoel (stamvader van die Swanepoels) en sy vrou Maria
Sibella Sachs. Hy het moontlik op die leningsplaas, “Nieuwe Münster”, in die
Land van Waveren, wat in 1716 aan Swanepoel toegeken is, gewerk. Die
dienskontrak word op 2 Desember 1717 onderteken in die teenwoordigheid van
Christoffel Brand en Ryk Tulbach. Dit is jaarliks daarna hernu, met die laaste
hernuwing op 8 Januarie 1722 voor Hendrik Swellengrebel. ‘Bouwkneg’ dui volgens
die Nieuw Nederduitse en Engelsch Woordenboek
van J Holtrop, daarop dat Bernardus ‘n landbouer was, aangesien die
woord ‘bouw’ die oes of oestyd, beteken. Volgens dieselfde woordeboek is ‘n
‘bouwman’ ‘n boer.
In 1723 word Bernardus ‘n Vryburger
en word die plaas “De Nonna”[xviii]
aan die Nonnas- en Hexrivier in die Worcester
distrik aan hom toegeken. Hy tree vermoedelik ook in dieselfde jaar in die
huwelik met Maria Walters. Die presiese datum van die huwelik kon nie vasgestel
word nie. De Villiers en Pama[xix]
gee die datum as 1724, maar ‘n soektog in die kerkrekords kon dit nie bevestig
nie. Die vermoede is dat hulle in die Drakenstein gemeente sou trou aangesien
dit hulle oudste kind se doopplek is. Die huweliksrekords van die Drakenstein
gemeente vir die periode 10 November 1720 tot 22 Julie 1725 bestaan nie meer nie
en nie een van die kerkregisters van die ander gemeentes aan die Kaap bevat so
‘n huweliksinskrywing nie. Die eerste
dokumentêre bewys van die huwelik is te vinde in die Monsterrolle van April/Mei
1724.
Die afkoms van Maria Walters is ‘n
onopgeloste raaisel. Volgens De Villiers en Pama[xx] was sy die
dogter van Ernst Friedrich Walter, afkomstig uit Breslau, ‘n leerlooier in
diens van die VOC. Hierteenoor noem Heese en Lombard[xxi] die
moontlikheid dat Maria, Walter se weduwee was. Geeneen van dìe twee bronne kon
bewys word nie aangesien geen dokumentêre bewys van enige verbintenis tussen
Maria Walters en Ernst Friedrich Walter gekry kon word nie en daar ook nie ‘n
doopinskrywing vir Maria gevind kon word nie.
Bernardus en Maria se drie kinders
is:
b1 Anna[xxii] ~ Drakenstein 11 Junie 1724 x Stellenbosch 20 Oktober 1741 Barthlomeus
Zaaiman.
(Die doopdatum van 11 Januarie 1724
in die Suid Afrikaanse Geslagsregisters, Deel 1 is verkeerd[xxiii])
b2 Ernst
b2 Hendrik ~ Drakenstein 2 Februarie 1727 x
Stellenbosch 20 September 1753 Cornelia
van Emmenis
b3 Regi b3 Regina
Barbara ~
Drakenstein 21 Augustus 1729 x Paarl 15 September 1748 Sebastian Wolfaardt, stamvader van die
Wolfaardts in Suid Afrika.
Bernardus koop op 20 April 1728
“Goedehoop” 163 in Drakenstein[xxiv]
(groot 60.00 morg) van Hans Hattingh vir f 60. Die plaas is die eerste
keer op 23 Mei 1708 opgemeet. Hy verkoop dit op 5 Oktober 1735 aan Abraham de
Villiers.
In die Opgaafrolle van 1731 word
aangedui dat Bernardus op daardie stadium nog met Maria Walters getroud is en
dat hulle een seun en twee dogters het. Hy besit ook 2 slawe mans, 3 perde, 51
beeste, 40 skape , een snaphaan,1 pistool en 1 degen. Maria Walters word nie in die Monsterolle van 1732 aangegee nie,
wat daarop dui dat sy tussen Mei 1731 en April 1732 oorlede is.
Op 10 Augustus 1732 trou Bernardus
te Kaapstad met Anna Geertruida Fick, dogter van Antonij Fick en Maria van der
Schelde.
Bernardus en Anna se vier kinders
is:
b4 Maria ~
Drakenstein 6 September 1733 x 7 Desember 1755 Guillaume du Toit.
b5 Susanna[xxv] ~ Stellenbosch 17 Julie 1735 +
vermoedelik voor 1741 (Sy word nie in sy testament wat in 1742 opgestel is
genoem nie en geen verdere verwysings na haar kon gevind word nie).
b6 Aletta ~ Stellenbosch 9 September 1736 x 7
Desember 1755 Pieter Marais
b7 Johanna
Barbara ~
Stellenbosch 13 September 1739 x 9 Julie1780 P J de Villiers
Anna Geertruida Fick sterf tussen
Mei 1739 en April 1740 want die Monsterrol van 1740 dui aan dat hy nie getroud
is nie. Die Opgaafrolle van 1741 dui ook aan dat Bernardus nie getroud is nie
en dat hy 1 seun en 5 dogters het. Dit kom dus ook voor asof die dogtertjie
Susanna op hierdie stadium reeds oorlede was. Hy woon in die distrik
Stellenbosch en in die opgaafrol van 1741 word sy besittings aangegee as 1
manlike slaaf, 2 perde, 112 beeste, 300 skape, 1 snaphaan en 1 degen.
Bernardus koop op 7 Mei 1738 ‘n erf
in die dorp Stellenbosch[xxvi],
min of meer geleë op die hoek van die huidige Kerk- en Van Ryneveldstraat, van
A Bernard. Na Bernardus se dood is dit uit sy boedel verkoop aan die weduwee
van Jean Prieur du Plessis, Maria Buisset.
Bernardus tree gedurende 1741 in die
huwelik met Anna Cornelis, ~ 29 Mei 1680. Sy is die weduwee van Jan Barendsz
Siger (afkomstig van Erfurt) en is die dogter van Jan Cornelisz van oud
Beijerland (ook bekend as Jan Bombam) en Catharina Harmenz van Rhenen. Anna en
Bernardus stel op 7 November 1742 'n
gesamentlike testament[xxvii]
op waarin hulle beskryf word as die testateur is gesond van liggaam en gees
maar de testatrise tydelik te bedde leggende, echter by haar verstand, sinne
en memorie en uitspraak volkome magtig. Sy verklaar dat sy geen ouer of kind in lewen hebben.
Deur hierdie huwelik bekom Bernardus
die plase “Vredenhof”[xxviii]
(grootte 60 Morg 400 vk roede) en “Groen Rivier”[xxix] (grootte
59 morg 221 vk roede) in die distrik Stellenbosch.
Anna Cornelisz sterf teen die einde
van 1742
Op 30 Maart 1743 koop hy van Juriaan
Paulsz die plaas “Coetzenburg”[xxx]
in die distrik Stellenbosch, groot 24 morg. By sy afsterwe besit hy ook die
plaas “Bonterivier”[xxxi]
in die distrik Stellenbosch.
Hy trou op 12 April 1744 met Judith
van der Wat, ~ 18 Desember 1724, dogter
van Hendrik Jansz van der Wat en Margaretha Niemand.
Bernardus en Judith se een kind is :
b8 Anna
Geertruida ~
Drakenstein 16 Augustus 1744
In hofstukke[xxxii] van 1744
verklaar Bernardus voor die Landdros van Stellenbosch, Pieter Lourensz,
dat Fortuijn van Bengale, een van sy
slawe, hom met ‘n mes aangeval het. ‘n Slavin, Lea van Rio de la Goa, vertel
dat Fortuijn vroeër die dag van ‘n plaas in die distrik moes stap na Bernardus
se ander plaas in die Moddergat distrik, vermoedelik “Groen Rivier”. Teen
donker was Fortuijn nog nie daar nie en toe hy uiteindelik opdaag, was hy
bekommerd en het aan een van die slavinne gevra Wil de Baas mij kloppen?.
Nadat Bernardus hom uitgeskel het as ‘een luijshond’ en luiaard het hulle
handgemeen geraak en Fortuijn het ‘n lang kombuismes gegryp. Hy is daarna deur
die ander slawe, Bernardus se dogter Regina en vrou Judith van der Wat
oorrompel, vasgebind en is hy in de tronk gestoppen.
Na ‘n nederige begin as soldaat aan die Kaap het Bernardus daarin geslaag om homself oor
‘n tydperk van bykans veertig jaar op te werk tot ‘n vooraanstaande boer en hy
sterf op 22 September 1746[xxxiii].
Alhoewel Bernardus saam met sy vrou
Anna Cornelis ‘n testament opgestel het, is dit nie na haar dood en sy verdere
huwelik met Judith van der Wat hersien nie en sterf hy intestaat[xxxiv].
Al sy besittings word dus te gelde gemaak en tussen sy erfgename verdeel. Die
vendusie[xxxv]
van sy bates is op 11 en 12 Januarie 1747 gehou. Op die vendusie word die
plaasopstal De Nonna aan die Hexrivier verkoop aan Hendrik Janse van Rensburg
vir f239.
Die totale opbrengs van die veiling beloop f4173,3 gulde
en die volgende eiendomme word later verkoop:
Die
plaas “De Bonterivier” aan H E Blanckenburg vir f191.32
Die
plaas “De Groenerivier” aan Adriaan Smuts vir f999.48
Die
plaas “Coetzenburg” aan sy weduwee Judith van der Wat vir f487.64
Die
erf in Stellenbosch aan Maria Buisset vir f233.16.
Die
plaas “Vredenhof” aan Willem van der Merwe van Wittenberg.
Die
totale waarde van sy boedel[xxxvi] beloop f6104.27.
Judith hertrou op 25 Junie 1747 met Casper Hendrik Badenhorst.
Na
Bernardus se afsterwe word die Van Biljon naam voortgesit deur sy
enigste seun, Ernst Hendrik van
Biljon. Ernst trou op 20 September 1753 met Cornelia van Emmenes en hulle
het 8 kinders, ses seuns en twee dogters.
c1 Gerhardus ~ Drakenstein 18 Augustus 1754
c2 Bernardus ~ Drakenstein 2 Mei 1756
c3 Anna ~ Drakenstein 1 Oktober 1758
c4 Gerrit ~ Drakenstein 1 Maart 1761
c5 Johannes ~ Drakenstein 3 April 1763
c6 Petrus ~ Drakenstein 6 Oktober 1765
c7 Maria ~ Drakenstein 27 Maart 1768
c8 Hendrik ~ Drakenstein 2 Mei 1773
Van die ses seuns laat net
Gerhardus, Bernardus en Petrus enige nageslag na.
VERWYSINGS
1 Pama,
C. Die groot Afrikaanse familienaamboek. Kaapstad. Human & Rousseau
1983. p328
2 Dokument
van onbekende oorsprong ontvang van emeritus prof I J van Biljon, Stellenbosch,
RSA.
3 Gardner,
L. Bloodline of the Holy Grail. New York. Barnes & Noble. 1996.
4 VOC. Scheepssoldijboek
van het Schip Hoedekenzkerke 1602-1811. VOC Archief. Amsterdam. Nummer
toegang: 1.04.02. Invemtarisnummer 5567, p208.
5 Idem.
6 Dutch-Asiatic
shipping in the 17th and 18th Centuries by J R Bruyn,
F S Gaastra and I Schöffer. The Hague. Marthinus Nijhoff. 1979. Volume 2, p294.
7 Idem.
8 VOC. Generale
monsterrol 1708. Kaapse Argiefbewaarplek. Vindnommer: VC40.
9 Mentzel,
O F. Life at the Cape in mid-eighteenth century: being the biography of
Rudolf Siegfried Alleman, edited by Margaret Greenlees. Cape Town. Van
Riebeeck Society. 1919. p18.
10 Sleigh,
D. Die buiteposte: VOC buiteposte onder Kaapse Bestuur 1652-1795.
Kaapstad. HAUM. 1993. p96.
11 VOC. Generale
monsterrol 1708. Kaapse ... p115.
12 Sleigh,
D. Die buiteposte ... p505 en VOC. Generale monsterrol 1708 ... p141.
13 Valentijn,
F. Beschryvinge van de Kaap der Goede Hoop. Kaapstad. Van
Riebeeck-Vereniging. 1973. Volume 1, p168.
14 VOC. Generale
monsterrol 1708. Kaapse ... p249.
15 Sleigh,
D. Die buiteposte ... p505.
16 Idem,
p529.
17 V O
C. Bernardus van Bilton kontrakte 1717-1722. Kaapse Argiefbewaarplek.
Vindnommer: CJ 2878, p124.
18 V O
C. Oude Wildschutte Boek. Kaapse Argiefbewaarplek. Vindnommer: RLR 9/1.
19 De
Villiers, C C en Pama, C. Geslagregisters van die ou Kaapse families.
Kaapstad. A A Balkema. 1981.
20 Idem.
21 Suid-Afrikaanse
geslagregisters, opgestel deur J A Heese en geredigeer deur R T J Lombard.
Pretoria. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Instituut vir
Geskiedenisnavorsing. Afdeling genealogiese navorsing. 1986. Volume 1: A -C,
p109-113.
22 Nederduitsch
Gereformeerde Kerk. Drakensteijn gemeente. Doopregister. (Fotokopie).
Kaapse Argiefbewaarplek Vindnommer: VC 644.
23 Idem.
24 Ons
Drakensteinse erfgrond: Groot Drakenstein deur J G en W G Le Roux. Paarl.
Drakenstein Heemkring. p15.
25 Nederduitsch
Gereformeerde Kerk. Drakensteijn gemeente. Doopregister. (Fotokopie).
Kaapse Argiefbewaarplek. Vindnommer: VC 633.
26 Van
der Byl, J. Eienaars van erwe in die dorp Stellenbosch 1693-1860.
(Ongepubliseerde manuskrip). Vindplek: Erfurt Huis Museum. Stellenbosch.
27 Testament
[van] Bernardus van Biljon en Anna Cornelis. Kaapse Argiefbewaarplek.
Vindnommer: 1/STB 18/10.
28 Ons
Drakensteinse erfgrond: Groot Drakenstein ... p9.
29 Van
der Byl, J. Eienaars van erwe .... .
30 Idem.
31 Likwidasie-
en distribusierekening [vir die boedel van] Bernardus van Biljon. Kaapse
Argiefbewaarplek
32 Hofstukke:
Bernardus van Biljon / Fortuijn van Bengale. Kaapse Argiefbewaarplek.
Vindnommer: 1/STB 3/9.
33 VOC. Scheepssoldijboek
van het Schip Hoedekenzkerke ..., inventarisnummer 5567. p208.
34 Idem.
35 Vendurolle:
Bernardus van Biljon. Kaapse Argiefbewaarplek. Vindnommer: MOOC 10/5 (74).
36 Likwidasie-
en distribusierekening [vir die boedel van] Bernardus van Biljon.
ERKENNINGS
1 Tobi Swart,
professionele navorser in Pretoria, vir sy opbouende kritiek, die moeilike taak
om hierdie artikel te redigeer en vir die versorging van die voetnotas en
bronne.
2 Lede
van Genforum, Afrikaanse internet gespreksforum vir ‘n aantal leidrade.
3 Andrè Kellerman en Leon
Endeman (GISA, Universiteit van Stellenbosch) wat my weer op die spoor geplaas
het nadat ek in ‘n doodloopstraat beland het.
4 Personeel van die Kaapse
Argiefbewaarplek vir hulle hulp, veral Erica le Roux wat altyd geduldig en
behulpsaam is.
5 Didi du Plessis van
Knegsel, Nederland wat gehelp het met die naslaan van dokumente in Amsterdam.